Lilly van Liekieland is hier!

Lilly Page Header

Lilly van Liekieland gaan ‘n groot leemte vul in die opvoedkundige kindermusiek bedryf en met haar skitter musiekstyl gaan sy diep in kinder- en ouerharte kruip. Wat hierdie bekoorlike popsterretjie van Liekieland onderskei van vele ander is die feit dat sy spog met die stem en talent van Tikara Carin Groenewald, ‘n bekroonde musiekant met ‘n skatkis propvol talente!

Carin Groenewald het in November 1998 gegradueer aan C.A.M (Christian Art & Music) Skool in Lynwoodriff Pretoria. In Januarie 1999 word Carin as hoofsanger van ‘n groep gekies nadat meer as 300 sangers getoets is. Carin en groep-kitaar speler Chris Acker skryf nuwe musiek met meer van ‘n pop-musiek klank (met Carin as hoof-sanger) en stuur dit aan na BMG Africa. Die groep se deurbraak kom toe die hoof van BMG Africa (Dave Thompson, ook bekend as Idols-judge) vir hulle ‘n 5jaar kontrak aanbied. Die groep verander hulle naam na “Semisane” en Carin se verhoognaam na “Tikara”. Semisane maak groot opslae landwyd en neem hulle eerste album op (A life less strange). Hulle word gekies om die temalied vir die eerste Suid-Afrikaanse “Big-Brother” te skryf en te sing. Die Big-brother Temalied enkelsnit (Life), behaal platinum status in Suid-Afrika, en wen Semisane ‘n SAMA-toekenning in 2002.
Lilly art Die album “A life less strange” lewer talle no 1 liedjies op op plaaslike radio stasies se Treffer-lyste (KFM, 5FM, Algoa FM en Highveld Stereo.) Semisane tree op as voorganger vir internasionale sterre soos Westlife, Savage Garden en Shaggy met hul Suid-Afrikaanse toere. Semisane word vrygestel deur BMG Munich in Duitsland, en verkry ‘n groot aantal speeltyd op verskillende Australiaanse radio-stasies.
In 2003 neem Carin die groot stap en verlaat Semisane, sy verhuis na George waar sy haar man (Louie) ontmoet. Na hul troue in 2005 stig Carin PlanetPlay Privaat Musiek-skool en PlanetPlay Studios waar sy vandag nog haar liefde vir kinders en musiek uitleef deur jong talent te ontgin. In Oktober 2013 wen een van haar sang-studente (Johnny Apple aka Juan Appelgrein) South Africa’s got Talent. Carin beywer haar daarvoor om jong sangers/musikante/skrywers op te lei, en sy werk ook steeds as komponis. Carin ontmoet Suid-Afrikaanse liriekskrywer Adri van Nieuwenhuizen in George en so word hul kinder-projek “Lilly van Liekieland” gebore!

Adri van Nieuwenhuizen het in haar loopbaan as liriekskrywer groot sukses behaal. Reeds in 2008 het sy n kontrak met Select Music gesluit en is haar lied “Journey of Hope” op Romanz se CD “My hele hart” vrygestel. Suid-Afrikaanse Idol David Fourie neem Adri se treffer “n Stukkie Son” op en Adri se lied oor die inspirerende mensie agter Idol Elvis Blue se naam word vrygestel op Michael Lindt se CD “Sal vir altyd bly”. In 2012 stel Select Music die temalied wat Adri vir Cancervive geskryf het, “I can survive”, vry. Dit spreek vanself dat die musiek van Lilly van Liekieland uit ‘n goue pen kom met lirieke wat groot en klein sal inspireer.

Lilly art 2Met soveel talent agter die karaktertjie Lilly kan verwag word dat sy nie om dowe neute al die pad van haar sterretjie saam met haar maatjie, Reëndruppetjie, teen die reënboog tot op die aarde afgegly het nie. Sy is hier in Liekieland om te bly! Ouers sal verheug wees om te hoor Lilly leer maatjies hoe om te bid, hoe lekker en gesond dit is om te oefen, sy sing van haar Mamma wat haar leer om groente te eet, van haar Pappa wat met haar dans, haar liefde vir diere en selfs van haar tandjies wat wissel. Bekende skrywer Christien Neser sê “Lilly se vlerkies warm op. Sy is gereed om Suid-Afrika met ‘n pers wolk betowering te tref. Haar musiek het my dadelik bekoor. Dis mos wat ons kinders nodig het: ‘n funky popsterretjie! Én ‘n musikale, slim ene. Die oulike bling-bling en bykomstighede wat klein dogtertjies sal kan koop om by hul gunsteling popsterretjie te pas, is ‘n lekker bonus. Generasie X het vir Liewe Heksie gehad. Generasie Y het vir Lilly. Mag sy vér en vrolik vlieg, en haar tuismaak in die harte van ons land se reënboog van kleuters.” Die toekoms lyk sommer blink!

Vir meer inligying oor Lilly van Liekieland kontak Adri van Nieuwenhuizen op 082 460 6386 of epos [email protected]. Besoek ook Lilly se webwerf www.liekieland.co.za en natuurlik Facebook by Lilly van Liekieland.