Band Profile: Anton Botha Band

The Anton Botha Band has been growing in popularity over the past few years and is now one of South Africa’s most beloved bands. Read more about each member!

Anton Botha (Hoofsanger, Elektriese Kitaar):

In sy laerskool dae het hy alreeds saam met groot name soos Coenie de Villiers, Anneli van Rooyen en Randall Wicomb opgetree. In 2003 is Anton aangewys as een van die tien ATKV Crescendo finaliste. In 2008 word hy genomineer vir ‘n SAMA-toekenning vir die Beste Afrikaanse Pop Album vir Jakaranda. In dieselfde jaar is hy vereer met ‘n goue plaat vir sy bydrae tot die albums Country Kersfees en Country Konings 1 wat albei onderskeidelik meer as 20 000 eenhede verkoop het. Anton is in 2016 benoem as ‘n kandidaat in die kategorie vir beste Rock-album tydens die jaarlikse Ghoematoekennings.

As ‘n baie gewilde liedjieskrywer is sy musiek al deur verskeie van ons land se bekendste musieksterre opgeneem. Hy het onder andere vir Juanita du Plessis, Karen Ferreira, Thys die Bosveldklong, Wynand Strydom, Karlien Husselman en Izak Davel geskryf. Hy het al toere saam met die gewilde Robbie Wessels, Wynand Strydom en Thys die Bosveldklong gedoen en het gou in die publiek se harte ingekruip met sy seeblou oë. Resensies van Anton se musiek is al gepubliseer in tydskrifte soos Vrouekeur, Rapport, Rapport Tydskrif en nog vele meer en hy was ook al te sien op televisieprogramme soos Jukebox, Kwela en DKNT2 op KykNET. Anton se musiek kan gehoor word op talle radiostasies en hy het ook al verskeie top tien plekke behaal op treffersparades. Anton Botha is verseker hier om te bly.

Riaan Diedericks (Drommer):

Riaan is in Durban gebore en het grootgeword met musiek in die huis. Hy het van kleins af al ‘n oor vir musiek gehad en het selfs ‘n oudisie vir die Drakensbergse seunskoor geslaag op die ouderdom van dertien. Toe hy veertien jaar oud was, besluit sy ouers om Vrystaat toe te trek en dit was in Bloemfontein waar hy toe sy tande as dromspeler begin slyp het.

Hy het op skool begin speel in die ACSV band en elke pouse was daar kans om geraas te maak. Na matriek het hy in verskeie Bloemfontein bands gespeel soos die Kakiebos Cowboys, die Rockspiders, Punkreas, Ystervark, en die Musicon big band. Terselftertyd studeer hy Elektriese Ingenieurswese aan die Vrystaat Technikon. In 2004 kry hy sy groot deurbraak toe Ddisselblom hom nader om voltyds deel te word van die band. Hierdie besluit was die keerpunt oomblik in sy musiek loopbaan. Vir vier jaar toer hy saam met Ddisselblom waar hulle ‘n gemiddeld van 140 shows ‘n jaar landswyd doen en ook gereelde optredes in die buiteland. Ddisselblom wen 2 Geraas-musiektoekennings in die tyd vir beste musiekvideo, beste groep en beste optrede.

In 2005 trek hy Pretoria toe en begin werk as ‘n voltydse drommer. In 2006 begin al hoe meer kunstenaars vir Riaan gebruik vir optredes en opnames. Hy was 3 jaar die permanente dromspeler vir Jan Blohm en wen in hierdie tyd ‘n SAMA-toekenning vir die Groen trui album. Saam met Jan Blohm het hy ook optredes in België, London en Namibië gedoen. Jak de Priester nader toe vir Riaan en hy toer 3 jaar saam met hom. Tussendeur tree hy nogsteeds op saam met verskeie ander kunstenaars en doen CD, DVD & TV opnames met name soos Nianel, Riana Nel, Anton Goosen, Dewald Dippenaar, Joe F, Robbie Wessels, Albert de Wet, Klopjag, Dozi en talle ander.

Riaan is betrokke by 2 albums met SAMA-nominasies: Klopjag Live by Aardklop DVD 2007 en Gerald Clark se CD Sweepslag. Hy het tot op hede al opgetree by ons land se grootste verhoë soos Skouspel, Oppikoppi, Kaktus oppi vlaktes & Highveld 94.7 Raw Rocks.

Kuifie van Heerden (Agtergrondstemme, baskitaar):

Kuifie is gebore in Vereeniging. Hy het op laerskool en hoërskool begin belangstelling wys in musiek. Hy was deel van sy hoërskool se Kadetorkes, waarin hy sy-drom gespeel het. Op Tukkies het hy die kultuursang begelei op kitaar. Alhoewel musiek altyd ‘n groot deel van sy lewe was het hy ‘n paar jaar later voltyds begin musiek maak saam met sterre soos Gerhard Steyn, Lianie en Jay, Joe F, Adam Tas, Ray Dylan, Jakkie Louw en Anton Myburgh. Kuifie is ook te sien in musiekvideos van Gerhard Steyn, Die Broers, Freddie Nest, Ray Dylan, Adam Tas en Manie Jackson. “Optredes wat my baie na aan die hart lê is die Maanlig Makiti in Hartenbos, Rittelfees, KKNK hoofverhoog en die Voortrekker Monument in samewerking met Pretoria se Verjaarsdagfees.” Kuifie het ook die voorreg gehad om onlangs saam met ‘n Amerikaanse Musiekbediening op te tree tydens hul Suid-Afrikaanse Toer.

Die Anton Botha Band tree gereeld op by skoue en feeste soos die Aardklop Nasionale Kunstefees en InniBos Kunstefees. Die orkes beskik oor hul eie klank en beligting.
Vir lewendige optredes en musiek videos besoek asseblief ons Youtube Kanaal: www.youtube.com/abmusiek
Meer inligting ook beskikbaar op ons webwerf: www.antonbotha.com